10. Tarzan se girlfriend

Màu nền
Font chữ
Font size
Chiều cao dòng

* Shaun *

"Shaun! Kom, ons gaan laat wees! Hulle wag seker al 'n hele ruk vir ons!" Genade sy raak erger as Ma! Ek is besig om my tande te borsel.

Met my mond vol tandepaste skree ek by die badkamer uit. "Ek maak net hier klaar! Chill uit!"

"Maar ons moet gaan! Pappa sê altyd 'n mens is eerder te vroeg as te laat." Ek vee my mond aan die handdoek af en trek my T-hemp aan.

"Wel, Pappa is nie hier nie, is hy? Kom ons gaan."

"Uiteindelik!" Sammie hardloop tot by die bakkie en hop vinnig in. Ek skud my kop en volg haar. Ek het haar lanklaas so opgewonde gesien soos vandag. Dis Ariel se laaste dag hier op die plaas en ons het almal besluit om vir haar 'n verrasings piekniek te hou. Ek moet vir Samantha op die koppie gaan aflaai en dan vir Ariel gaan wakker maak en piekniek toe vat.

"Okay, Shauntjie. Sy behoort nog te slaap. Laat haar rustig klaarmaak en dan bring jy haar. Nie voor nege nie, hoor."

"Ja, Tannie." Al die mense verdwyn met trekkers en bakkies die berge op. Ek bly alleen agter met die hele huis vir myself en die gedagte van 'n ongelooflike meisie in haar bed maak my mal. Ek maak vir ons elkeen 'n koppie koffie en dra dit oor na haar kamer toe. Ek stoot die deur 'n entjie oop en loer deur die skrefie. Sy is nog vas aan die slaap. Ek sit die koppies op die bedkassie neer en skud haar liggies wakker.

"Ariel. Haai, Ariel. Word wakker." Sy ruk vinnig regop en ons stamp hard ons koppe teen mekaar.

"Ouch!"

"Goeie genade, vroumens! Jou kop is hard!"

"Shaun! Jy gee my 'n hartaanval en sommer 'n hoofpyn ook! Wat soek jy hier?" Ek begin lag met my hand nog steeds op my kop.

"Ek het vir jou koffie gebring."

Sy giggel. "Dankie."

"Plesier."

"Wat maak vandag so spesiaal?" vermoed sy dalk iets? O genade, ek hoop nie so nie!

"Wat bedoel jy?"

"Wel, koffie in die bed en so aan."

"O, ja. Daar's niks verkeerd daarmee om koffie vir almal rond te dra nie."

"Seker nie. Waar is die ander dan?"

"Jou ouma moes iets gaan doen het en die ouens is iewers besig in die veld."

"En Sammie?"

"Sy ... is saam met jou ouma. Drink jou koffie en maak kla."

"Hoekom?"

"Hoekom vra jy so baie vrae so vroeg in die oggend? Jy wil seker nog kom help werk vir oulaas."

"Jip."

* Ariel *

"Moet nie loer nie."

"Dis moeilik om deur jou groot hande te sien, jy weet." Shaun se lag kom van agter my af. Sy hande is oor my oë en hy lei my iewers heen. Die vet weet waarheen! Ek val amper oor 'n trap of 'n ding, maar Shaun hou my bo.

"Okay, is jy reg?"

"Hang af?"

"Goed dan. Een ... twee, drie!"

"Surprise!" Shaun vat sy hande van my gesig af en voor my sit ... almal. Van boer tot bure.

"Wow! Wat gaan hier aan?"

"Ons wou jou laaste dag iets maak wat jy nie sal vergeet nie."

"Dit was regtig nie nodig nie, dankie Ouma." Ek druk my ouma teen my vas en ons staan net so, vergeet van die wêreld rondom ons. Die wind waai liggies deur my hare en iewers agter my hoor ek perde se hoewe klap.

Ons spandeer heel dag bo op die koppies, weg van die wêreld daar onder. Niemand kan ons pla of blameer nie. Dis 'n gelag en geproe. Almal praat 'n hond uit 'n bos, definitief geen wagte voor die monde nie. Daar is nie een oomblik van stilte nie.

"Ariel!" ek swaai om en sien Samantha aan een van die lae bome hang. "Kyk! Ek's 'n apie!"

Ek lag en stap nader. "Apies moet versigtig wees om nie af te val nie."

"Ek val nie af nie, ek is Tarzan se girlfriend en Tarzen is in elk geval 'n aap, so ek is seker ook een."

Weereens lag ek vir die lawwe sesjarige met haar wye verbeelding. "Klim af, Sammie. Jy gaan ook so 'n gips kry soos ek as jy aanhou." Sy kyk verward op soos sy nadink.

"Sannie! Kom haal my af." Shaun kom nader gedraf en vang Samantha maklik in sy sterk arms vas. "Kan ek 'blief vrugtesap kry, Sannie?"

"Ja, kom. Ariel, soek jy ook?" Ek knik en volg hulle terug na waar die ander op 'n oopgegooide kombers sit. Shaun gooi drie plastiekglasies vol vrugtesap en ons gaan sit by die ander.

"Okay, kan ek asseblief almal se aandag kry?" Shaun kry almal se aandag by hom en maak sy keel skoon. "Die laaste twee weke het sy op- en afdraendes gehad. Ariel het baie drama op hierdie plaas gebring, maar ook baie vreugde. Sy het almal op hol gejaag en nogals baie uitgehelp waar sy kon. Ek dink die plaas gaan stil en vervelig wees sonder jou, Ariel. Jy en jou ouma het mekaar weer gevind en jy het my hart gesteel ..." hy bly vinnig stil en kyk na al die verbaasde gesigde om hom. Ek kan nie glo wat my ore hoor nie! Het hy nou net gesê dat hy ... nee hy kon nie ... dit kan nie wees nie. Al die mense se oë beweeg vanaf my, terug na Shaun. Sy wange het intussen bloedrooi geword en hy beweeg heen en weer op sy voete, waar hy staan met sy plastiek glasie in sy hand. "Verskoon my." Is al wat hy sê. Hy draai net daar om en speedwalk by die koppie af.

"Toe! Waarvoor wag jy, Ariel?"

"Wat?! Néé!"

"Komaan! Jy hou van hom ook, almal weet dit! Dis nou of nooit!" Miskien is Lisa reg, dalk kan daar iets wees ... ek spring op en begin in die rigting draf waarheen Shaun laaste verdwyn het. Op die punt van die koppie sien ek hom, wel eintlik hoor, want hy raas hardop met homself.

"Shaun! Wag!" Hy swaai vinnig om en staan stil en kyk na my. Ek stap nader en gaan staan reg voor hom.

"Ariel, ek's jammer. Ek wou dit nie gesê het nie." My hart mis 'n slag. Hy wou dit nie gesê het nie ... ek het geweet dis te goed om waar te wees!

"Jy wou dit nie sê nie?" My stem kraak. Shaun staan nader en sit sy hand op my kakebeen. Sy duim vee oor my wang en ek kom vir die eerste keer agter dat my wange nat is.

"Néé, dis nie wat ek bedoel nie. Ek het bedoel, ek sou dit nie so vir jou wou gesê het nie."

"Jy kan nou." My stem is sag.

"Ja, ek kan. Ariel. Die dag toe ek jou die eerste keer gesien het, het ek al van jou gehou. Ek weet dit klink soos 'n cliché, maar dit is regtig so. Ons het wel nie baie goed oor die weg gekom nie, maar ons het oor dit gekom. Ek is mal oor jou, jou lag, jou oë en tot jou chicky attitude. Ek het myself probeer oorreed dat ek nie so voel nie, want môre gaan jy terug en mense sê afstand-verhoudings werk nie. Wel, dit het nie gehelp nie, want ek wil jou vir myself hê. Toe ek nou die dag terugkom van my ouers af en ek uitvind jy het seergekry, het ek gedog ek gaan mal word. Ek ... jou nodig, Ariel." Ek het nie geweet dis moontlik om ooit so te voel soos nou nie ...

Dis tyd ... dis verby ... ek kan dit nie glo nie. Ek pak die laaste van my klere in my pienk tas. Ek gaan badkamer toe en gooi alles terug in my badkamersakkie. Met 'n sug gooi ek dit op die bed neer en plak langs dit neer. Ek voel moedeloos en ... magteloos. Ek wil nie terug gaan nie. Miskien moet ek vir my ma sê dat ek eerder na Shaun se skool toe wil gaan. Dan kan ek hier by my ouma bly en in die oggende met 'n bus of 'n ding skool toe gaan. Shaun kan my selfs heen en weer ry, of nee, Lisa is so oud soos ek so ek kan sommer saam met hulle ry!

Ek word uit my gedagtes geruk toe daar 'n klop aan my deur is. "Kom in." Shaun se gesig kom in en ek kyk by die teenoorgestelde venster uit. Ek kan hom nie nou sien nie, dit gaan alles net erger maak.

"Haai."

"Hello."

"Is jy gepak?" met 'n sug knik ek stadig. "Hierso." Ek draai en sien iets op die grond voor hom. Dit lyk soos 'n boks wat met mooi perde papier oorgetrek is.

"En dit?" vra ek verbaas.

"Dis joune."

"Dit was nie nodig om iets te gaan koop nie, Shaun."

"Ek het nie, dit was in elk geval joune." Ek is so verwar op die oomblik dis nie eens snaaks nie. "Toe, gaan jy dit nou oopmaak of moet ek dit vir jou doen?" Ek sak af en gaan sit kruisbeen langs die boks. Opgewonde skeur ek die papier oop en kom toe af op 'n ... boks, soos ek gesê het, wat met tape toegedraai is. "Gebruik die." Hy hou 'n knipmes vir my uit en ek sny die tape los. Toe ek die vlapper van die boks oop vou, is daar 'n gedierte in.

"Ew! Wat's dit?"

"Dis jou bokkie, wat jy nou die aand geskiet het."

"Het jy wraggies die ding laat opstop?"

"Ja, dis jou eerste bok en ek wou jou trofee vir jou gee ... en dit moet jou aan my herinner." Ek kan dit nie glo nie. Ek haal die bok se koppie uit en bekyk dit van al die kante af.

"Dankie, Shaun. As ek 'n plekkie kry waar my ma dit nie sal sien nie, gaan ek dit dadelik daar ophang ... my ma sal dit nie toelaat nie." Ek gaan sit op my hurke voor hom en piksoen sy wang. Dit word dadelik rooi daar waar ek hom gesoen het. Ons het gister besluit ons gaan dit nie te ver vat nie, ons bly net goeie vriende. Ons kan dit eendag verder vat as die tyd en situasie reg is.

"So, wat is jou planne vir die res van die jaar?"

"Wel, eerstens gaan ek die hele skool situasie onder beheer moet kry. Ek wil kyk of ek nie die skuldige kan uitpuzzle nie. Verder vat ek dit maar soos dit kom en jy?"

"Wel, eindeksamen is om die draai, so ek gaan seker die res van die jaar my tyd agter die boeke spandeer."

"Wat gaan jy na skool doen?"

"Ek weet nie, ek meen ek weet ek wil boer en ek het mos hierdie werk hier. Miskien gaan ek 'n gapjaar vat en dan landbou studeer ... ek weet nie, jy?"

"My ouers wil hê ek moet sielkunde gaan studeer."

"Maar jy wil nie?"

"Dit maak seker nie saak nie, maar na hierdie naweek sal ek graag iets met perde gaan doen. Miskien arbeidsterapie wat spesialiseer in perde. Jy weet, soos om gestremde mense te help om aan te gaan met die lewe, deur middel van perde."

"Wow, dis amazing. Kry jy net eers jou arm reg voordat jy weer daaraan dink om te ry."

"Ja, wel. Gepraat van perde, ek wil vir Beno en Fudge gaan groet, voordat my ma hier k-"

"Nok-nok." En so loer my ma by die deur in. "O, sorry, pla ek?"

"Nee, ma kan maar in kom."

"Hello, my skatlam. Hoe gaan dit hier? Hoe voel jy?"

"Haai, Ma. Tien duisend keer beter, dankie."

* Shaun *

Ek en Ariel is op pad stalle toe. Nie een van ons praat nie. Haar arms skuur teen myne en ek moet myself inhou om nie haar hand in myne te neem nie. Ek gaan haar so baie mis! By die stalle staan almal vir ons en wag. Hulle almal omhels vir Ariel en Lisa het skoon trane in haar oë. Ariel loop na Beno en groet hom. Daarna loop sy na Fudge en bars in trane uit. Ek wil nader gaan en haar troos, maar Lisa hou my terug en skud haar kop. Ariel praat met die perd en druk haar styf vas, die trane loop nog steeds. Ek kan nie hierna kyk nie, ek draai om en gaan staan buite vir vars lug. As ek nou al so tekere gaan, hoe gaan dit wees oor 'n paar maande van nou af?

* Ariel *

Soos my ma die kar start en die plaas al hoe kleiner agter ons raak, hoe meer sink my hart weg. Ek klou stywer vas aan die boks wat voor op my skoot is. Ek kyk in die truspieëltjie en sien hoe ek van my lewe af wegry. Daardie plek het in my gegroei en nou los ek dit, vir wie weet hoe lank.

A nee a, Ariel! Daardie was dalk 'n sprokie, maar dis nou verby! Kom terug realiteit toe. Dis jou lewe, jou regte lewe. Skool, ongeskikte skoliere, 'n blinde hoof, weerlose ouers en 'n onvoltooide ... ek.

Bạn đang đọc truyện trên: Truyen2U.Pro

#afrikaans